DAGBOEK
VANDAG 14 November
08:00 Koffie en tee in die foyer
09:00 Kinderkerssangdiens (Ds Coenie)
10:00 Koffie en tee in die foyer

DINSDAG 16 November
17:30 GKF afsluiting

SONDAG 21 November
08:00 Koffie en tee in die foyer
09:00 Oggenddiens (Ds Coenie)
10:00 Koffie en tee in die foyer
18:00 Kerssangdiens

GEBEDSLYS
Bid asseblief vir:
• Wanda Steyn
• Drienie Kriel

BELANGRIKE DATUMS
21 November : Kerssangdiens

MAALVLEIS EN WORS
Ons het weer maalvleis te koop @ R75 per kg. Daar is slegs een bees se vleis beskikbaar, plaas so gou as moontlik jou bestelling om teleurstelling te voorkom.

SUID WORD 65
Baie dankie vir almal wat sover bygedra het vir ons gemeente se R65-ste verjaarsdag.
Ons het die 3 maande van September tot November opsygesit as ons 65-fees. Betaal gerus enige tyd in hierdie drie maande jou verjaardaggeskenkie by die kerkkantoor in (of via elektroniese oorplasing) en merk dit as 65-fees. Baie dankie vir elkeen se deelname! -ds Coenie

VERJAARSDAGHOEKIE
Vandag: Coenraad Viljoen
15 November: Anton Smit, Chantelle Nienaber
16 November: Annette Marais, Renier Nel
17 November: Geen verjaarsdae
18 November: Jopie Fourie
19 November: Trompie Burger, Cor du Toit, Johan Klopper
20 November: Monique Nienaber
NB: Indien u naam nie op die weeklikse verjaarsdaglys verskyn nie, kontak asb die kerkkantoor sodat ek kan vasstel waar die probleem is. – Elize

MY GELYKENIS, MY STORIE
Gelykenisse help ons om terug te staan en eerlik te kyk na ons eie verhale saam met God.
Toe ek jonk en stout was, het ek een middag my sussie se Hyundai Accent geleen (as 15-jarige seun mag ek natuurlik nie bestuur het nie). Ek het gedink dit is cool om jou vriende op te laai en om voor te gee jy is meer volwasse as jou ouderdom. Ek en my vriende was op pad terug van die kuier geleentheid toe die kar snaakse geluide gemaak het en nie meer wou beweeg nie. Ons het toe nie meer petrol oor gehad nie en dit net omdat ons nie regtig geweet het waarmee ons besig was nie. Ons het petrolstasie toe gedraf en ’n 2 liter Coke Bottel vol petrol gemaak en dit in die kar gegooi net om weer terug by die huis te kom.
Tydens ons draffie na die petrolstasie het ek so skuldig gevoel oor wat gebeur het, omdat ek geweet het wat my ma en pa vir my geleer het oor vertroue en ek het dit toe verbreek. Toe ek by die huis instap was my ma net bly dat ek lewe, maar nogtans kwaad dat ek haar vertroue in my verbreek het. So ’n jaar later het ek weer sonder toestemming die Accent gevat en daarmee gery, hierdie keer om waarlik skade aan die kar aan te rig.
Hierdie is my gelykenis van ’n geleentheid waar ek gehoor het, maar nie geluister het nie. Ons kan dikwels dit hoor wat ons laat groei, dit wat goed is vir ons, maar nie werklik iets daarmee doen nie. Om te luister is om dit deel te maak van jou wese. Ek dink Jesus het iets hiervan probeer verduidelik deur die gelykenis van die saaier.
Matteus 13:1-9: [1] Dieselfde dag het Jesus van die huis af gegaan en by die see gaan sit. [2] ’n Groot menigte het so om Hom saamgedrom dat Hy in ʼn skuit geklim en daarin gaan sit het, maar die mense het almal op die strand bly staan. [3] Hy het hulle baie dinge in gelykenisse vertel en onder andere gesê: “’n Saaier het eendag gaan saai. Met die saai het ʼn deel van die saad op die pad geval, en [4] die voëls het gekom en dit opgepik. [5] ’n Ander deel daarvan het op klipbanke geval, waar daar nie baie grond was nie, en dit het gou opgekom omdat die grond nie diep was nie. [6] Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog. [7] ’n Ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het opgekom en dit laat verstik.[8] Die ander saad het in goeie grond geval en ʼn oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig. [9] “Wie ore het, moet luister!”
As jy moes terug staan en na jou storie kyk sou jy kon sê dat jy luister, maar werklik luister. Met ander woorde, is jy besig om die wysheid van jou geloof deur jou wese deel te maak van wie jy is, of is jy soos Hanno toe hy ’n tiener was, die een wat ore het maar nie luister nie.
Elke geleentheid in ons lewens is geleenthede waar ons op die pad staan, op die klipbank, tussen die onkruid en op goeie grond. Hoe lyk jou storie?
Gebed: Here, ons bid dat die u wysheid sal deel word van wie ons is, dat dit op goeie grond sal val by ons. Ons bid dat ons sal kan terug staan en eerlik wees oor ons eie stories en waar ons is. Mag u wysheid groei in ons lewens. Amen
– Ds Hanno Ackermann

DIE OERSONDE WAT ONS VREDE STEEL
ʼn Bietjie vrees kan goed wees. ʼn Klein dosis tydige vrees kan ons help om in ʼn gevaarlike omgewing op die uitkyk te wees vir gevaar en uiteindelik te oorleef. Dis egter vandag asof vrees so volop is, dat dit ʼn groter pandemie as Covid geword het! Vrees is vandag oral te vinde. Almal het die een of ander vorm van vrees. Ons vrees moontlike dinge, wat kan gebeur. Ons vrees, omdat sommige dinge moontlik nie gaan gebeur nie. Ons vrees misdaad. Ons vrees die virus. Ons vrees ʼn onseker toekoms. Ons vrees die dood, veral nou dat Covid soveel mense se lewens geëis het. Hierdie soort vrees is vernietigend. Dit steel ons vrede. Dit beroof ons van perspektief. Breinwetenskap sê vir ons dat wanneer ʼn mens te veel vrees, jou brein later die vermoë kan verloor om enigsins nugter of objektief oor negatiewe emosies te kan oordeel. Ons verloor dan die vermoë om logies te dink en probleme te kan oplos. Wanneer dít gebeur, vrees ons op ʼn byna konstante basis alles sonder ophou.
Maar is daar is een soort vrees, wat veral digitaal aangehits of gestimuleer word en dit is FOMO – Fear Of Missing Out. Ons is tog so bang ons mis iets – geleenthede, flieks, nuwe kursusse, nuwe inligting, wat ons lewens kastig onherroeplik kan verbeter, die advies van selfaangestelde ghoeroes, die kitswysheid van enige iemand met ʼn opinie, foefies. Ons raak skoon angstig. Die angstigheid om nie iets te mis nie, lei ons aandag só af dat ons aan min aandag skenk aan wat wel die moeite werd is.
Ons moet egter onthou dat die groot oersonde, die eerste aardskuddende sonde, wat die wêreld in ʼn gans nuwe rigting gestuur het, ook FOMO was! Ek verwys spesifiek na Adam en Eva. Die slang het gevra of God dan werklik gesê het hulle mag van geen boom eet nie. Hulle sê nee hy het net beveel dat hulle nie van één boom mag eet nie. Die slang antwoord (Gen 3:4): … maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.
Dis die eeue-oue leuen, waarmee die slang vandag nog mense mislei: Pasop, julle gaan iets mis! Julle gaan dit misloop om soos God te wees. Julle gaan die lewe misloop. Wanneer ons dan besig raak om alles na te jaag wat ons kan misloop, mis ons juis die belangrikste: Ons loop God mis; ons verhoudings met mense rondom ons, asook die stilte en vrede, wat sou maak dat ons God beleef.
Jesus vra dan self wat help dit dat ons alles wen maar die lewe self misloop (Matt 16:26). Jesus self is die lewe. Ons moet dus kies of ons, aan die een kant, beheer gaan word deur FOMO en alles najaag, wat oor ons pad kom, of bereid gaan wees om baie dinge te mis sodat ons Jesus kan wen en die lewe kan verkry!
– Roedolf Botha [eKerk]

GEBED VAN ‘N REISIGER
Sny vir my, o Heer, ’n wandelstok of twee
uit die woud by Tsitsikama en loop met my mee oor die vlaktes van die Groot Karoo,
oor die berge van Natal, langs die kus af tot by Vleesbaai
tot by die groen van Riversdal.
Brand die hemel van die Vrystaat tot in my hart se dagboek in,
laat my nooit die lug vergeet nie wat aan die horison begin.
En Heer is dit dieselfde son wat by my reis se einde skyn?
Behou mens steeds die reuk van reën as jou geheue dalk sou kwyn?
Want ek vrees mos nie die vreemde nie, selfs die afstand laat my koud.
By U is daar geen leemte nie, U bly steeds my behoud.
Al reis ek oor die sewe see, skuif kontinente stil verby,
sal ek my voetval op U rig, my in die reis verbly.
Maar ek vrees tog wel die eensaamheid, ek skrik die groot alleen.
Dis dan wanneer U my moet dra want U weet ek gaan daarheen.
Laat die sterre dus my kompas wees en U steeds my ware Noord, lei elke voetstap voor my reis, o Heer
Want dit is soos dit hoort -Skywer onbekend

METODES VAN DANKOFFERINBETALINGS
Debietorderopdrag: Vorms is in die voorportaal beskikbaar
Koeverte: In voorportaal beskikbaar
Elektroniese betaling (eft) of Zapper:
Bankbesonderhede:
NG Kerk Potch-Suid
Absa, Tjekrekening,
Nr 680580049
Takkode 632005
U is welkom om enige van bg metodes te gebruik om u dankoffer in te betaal.

CategoryOnder Ons
Follow us: