DAGBOEK
VANDAG 21 November
08:00 Koffie en tee in die foyer
09:00 Oggenddiens (Ds Coenie)
10:00 Koffie en tee in die foyer
18:00 Uitreik
SONDAG 28 November
08:00 Koffie en tee in die foyer
09:00 Oggenddiens (Ds Coenie)
10:00 Koffie en tee in die foyer
18:00 Kerssangdiens
UIT DIE WOORD:
Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”
“Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word.
Hy sal in en uit gaan en weiding kry.” – Johannes 14:6 en 10:9
SUID WORD 65
Baie dankie vir almal wat sover bygedra het vir ons gemeente se R65-ste ver-jaarsdag.
Ons het die 3 maande van September tot November opsygesit as ons 65-fees. Betaal gerus enige tyd in hierdie drie maande jou verjaardaggeskenkie by die kerkkantoor in (of via elektroniese oorplasing) en merk dit as 65-fees. Baie dankie vir elkeen se deelname! -ds Coenie
DANKIE IS ‘N KLEIN KOSBARE WOORDJIE
Hoe se mens dankie?
Dankie vir Genade so groot.
Dankie vir Seëninge onverdiend. Dankie vir Liefde so groot en mooi.
Dankie vir u Genade om wakker te word en te besef ons is gespaar.
Dankie vir nog ʼn dag om te ontvang uit U Hand, U Liefde, U Seëninge, U Genade.
Dankie Heer, vir U Seëninge. Seëninge van liefde deur mense onbekend.
Liefde deur U kinders.
Dankie Heer, dat U ons dra. Dra in tye wat ons wil opgee.
In tye wat als te veel raak vir ons.
Dankie Here, dat daar waar ons struikel, U ons optel en dra,
want ons was te swak om te staan.
Dankie Here, vir ons lewe, gesondheid, krag en geliefdes. Amen.
-Skrywer Onbekend
VERJAARSDAGHOEKIE
Vandag: Andreas Booyens, Henry Fourie, Linda Marais
22 November: Jacoba Ras, Ruan Blume, Marizann v Tonder
23 November: Koos Swanepoel
24 November: Stefney Rautenbach
25 November: Jakkie Botha, Leon Jordaan
26 November: André de Villiers, Melanie van Breda
27 November: Mynhardt du Preez, Sarel Pieterse
NB: Indien u naam nie op die weeklikse verjaarsdaglys verskyn nie, kontak asb die kerkkantoor sodat ek kan vasstel waar die probleem is. – Elize
HOE WERK DIE GEES SE GAWES?
Lees 1 Korintiërs 12:3
Om te keer dat gelowiges nie hulle gawes tot hul eie voordeel gebruik nie, bied Paulus in 1 Korintiërs 12-14 ‘n omvattende “handleiding” oor hoe die Here se gawes reg gebruik moet word. Hierdie beginsels is só belangrik dat Paulus sê dat ons liewers moet ophou om ons gawes te beoefen, as ons dit nie hiervolgens gebruik nie. Gedurende die volgende paar dae gaan ons hierby stilstaan. Hoor egter weer wat Paulus se uitgangspunt is: ons moet ons gawes reg gebruik. Vir die Here is die regte gebruik van dit wat Hy aan ons gee, belangriker as die blote feit dat Hy gawes aan ons gee. Die heel eerste beginsel, wat Paulus oor die Gees se gawes met ons deel, is dat elke gawe bydra tot die belydenis dat Christus die Here is (12:1-3).
Ter wille van die Korintiërs, wat wonder of gebeure soos die praat in vreemde tale kan bydra tot onbesonne uitsprake oor Jesus, sonder dat die beoefenaar van so ‘n gawe daarvan weet, deel Paulus hierdie algemene beginsel. Hy maak dit duidelik dat waar die Gees aan die werk is, daar word Christus se heerskappy bely, oral en altyd. Dis die eerste en belangrikste toets vir die egtheid van elke gawe. Jesus se Heerskap oor almal en alles word bevestig en net nog verder onderstreep deur elkeen in wie die Gees kragtig werk.
Gebed: Ek bely Christus dat U die Here is. Amen. -Stephan Joubert [eKerk]
AS DIT DONKER IS OM MY
Waarom-vrae
As ek maar geweet het waar om God te vind, sou ek my saak voor Hom lê. Ek sou van Hom antwoord probeer kry, probeer verstaan wat Hy vir my wil sê. –Job 23:3-5
Joni Eareckson Tada, ʼn gewilde Ameri¬kaanse skrywer, is as tiener verlam in ‘n duikongeluk. Sy vertel dat sy pas na hierdie ongeluk vir God met vrae gebombardeer het. Hoekom juis ék, Here? Wou sy by Hom weet. Ek is dan nog so jonk, my hele lewe lê nog voor my. Maar sy het geen antwoorde gekry nie.
Soos Joni vra Job ook vir God waarom-vrae. Hy meen dat hy onskuldig is en kan nie verstaan waarom die Here hom so swaar straf nie. Sy drie vriende is geskok dat hy dit waag om God te bevraagteken. Maar God is nie geskok nie. Hy veroordeel sy kind Job ook nie vir sy bitterheid en verwardheid nie. Wat Hy wel doen, is om hom op ʼn wandeling te neem. “Kyk Job,” sê Hy vir hom, “kyk mooi na al die dinge wat Ek gemaak het.” En hoe meer Job na die wonders van die natuur kyk, hoe kleiner voel hy. Tot hy uiteindelik moet erken dat God bo vrae verhewe is, dat God hom niks skuld nie.
Sy het uiteindelik wel ʼn antwoord by God gekry op haar waarom-vrae, getuig Joni. Dié antwoord is in Romeine 8:38-39 opgeteken: Niks kan ons ooit van God se liefde vir ons skei nie. En dit is antwoord genoeg, ook vir elkeen van die waarom-vrae waarmee jy vandag worstel.
Hemelse Vader, dankie vir die wete dat ek al my waarom-vrae maar by U kan laat los omdat ek weet dat niks my ooit van U liefde kan skei nie. Amen. -Nina Smit
DIE VRUG VAN DIE GEES IS … VREUGDE
– Galasiërs 5:22. 1983-vertaling
Omdat vreugde deel vorm van die vrug van die Heilige Gees wat in elke kind van God se lewe teenwoordig behoort te wees, veronderstel dit dat ons elke dag van blydskap sal straal. Dat ander mense, ongeag ons omstandighede, aan die vreugdegehalte van ons lewens sal kan sien dat ons aan God behoort.
Dit is baie makliker gesê as gedaan. Geen mens kan dit regkry om elke dag vol vreugde en blydskap te wees nie. Elkeen van ons staan tog soms met die verkeerde voet uit die bed uit op, en daar kom oomblikke in ons lewens wanneer ons met die beste wil in die wêreld dit nie kan regkry om opgeruimd en bly te wees nie.
Die soort blydskap waarvan Paulus hier praat, is ’n blydskap wat van binne kom. ’n Blydskap wat glad niks te make het met hoe ons vandag voel of hoe dit vandag met ons gaan nie. Hierdie blydskap kom van Jesus self, en daarom sal die Heilige Gees dit vir ons moontlik maak om elke dag in te gaan met sy vreugde in ons lewens. Wil jy ’n lysie maak van hoekom jy vandag bly moet wees?
God het jou so lief dat Hy sy seun na die wêreld stuur. Jesus het vir jou sonde aan die kruis betaal. Die Heilige Gees is elke dag by jou. Hy woon in jou. Hy lei jou, leer jou en staan jou by. Dis mos oorgenoeg rede om elke dag van blydskap te straal!
Here Jesus, baie dankie vir u blydskap in my lewe. Sal U my asseblief help om altyd bly te wees, ook in dié tye wanneer ek nie daarna voel nie, sodat ander mense die vrug van die Gees in my lewe kan raaksien. Dankie dat U die bron van my vreugde is. Amen. -Oorvloedige liefde [Struik Christian Media]
DANKOFFERS
Debietorderopdrag: Vorms is in die voorportaal beskikbaar
Koeverte: In voorportaal beskikbaar
Elektroniese betaling (eft) of Zapper:
Bankbesonderhede:
NG Kerk Potch-Suid
Absa, Tjekrekening,
Nr 680580049
Takkode 632005
U is welkom om enige van bg metodes te gebruik om u dankoffer in te betaal.