20 FEBRUARIE 2022
DAGBOEK
VANDAG
08:00 Koffie en tee in die foyer
09:00 Oggenddiens &
Belydenis van Geloof
09:00 Kinderkerke
09:00 Reguitstraat 13+
10:00 Koffie en tee in die foyer
18:00 Belysel 2022

MAANDAG
17:00 Fondsinsamelingsvergadering
(alle belangstellendes welkom)

DINSDAG
18:00 GKF Begrotingsvergadering

SONDAG 27 Februarie
08:00 Koffie en tee in die foyer
09:00 Oggenddiens
09:00 Kinderkerke
09:00 Reguitstraat 13+
10:00 Koffie en tee in die foyer
18:00 Belysel 2022

‘N SEËNBEDE VIR ONS JONG MENSE
Die Here is voor jou,
om die pad gelyk te maak.
Die Here is langs jou,
om jou in Sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou,
om die aanvalle van die bose af te weer.
Die Here is onder jou,
om jou te dra as jy mag val.
Die Here is binne-in jou,
om jou te inspireer.
Die Here is rondom jou,
om jou te seën.
Wáár jy ookal mag gaan,
dáár is HÝ!
– Uit Daelikse Woord

GEBEDSLYS
Bid asseblief vir:
• Wanda Steyn
• Drienie Kriel
• Nelia Neethling
• Sonette Coetzer
Spesiale voorbidding vir Linda Brits na Johannes se tragiese dood.

PANNEKOEKVERKOPE
Ons begin weer hierdie jaar met pannekoekverkope by Pick ‘n Pay. Ons eerste na-week is reeds 4 & 5 Maart 2022. Ons benodig GROOT asb weer helpers met die aanmaak van die deeg op Donderdag 3 Maart en genoeg helpers op Vrydag en Saterdag. Indien jy kan help, kontak asb vir Maryna (082 807 9954). Ons het regtig julle hulp nodig om van hierdie fondsinsamelingsprojek ‘n sukses te maak.

WÊRELDBIDDAG VIR VROUE
Donderdag 3 Maart 2022
om 18:30
saam met Christelle Liversage by die
NG Gemeente Potchefstroom-Die Bult
Tema:
Ek weet wat ek vir jou beplan
Skrywerslande:
Engeland, Wallis en Noord-Ierland

BERADING
Beste vriende, ek hoop dit gaan goed. Ek is steeds beskikbaar vir berading – vanaf 1 Februarie 2022 by ‘n nuwe kantoor, Beyers Naudé Laan 156.
Ek bied emosionele ondersteuning, terapie vir die hantering van emosionele pyn met behulp van kleur, klei en verf, ondersteuning aan ouers met gestremde kinders, asook Snoezelen (ontspanning, hantering van stres en angs). Die fooi per sessie is R200.00.
Kontak my gerus by 079 773 4339. Groete, Emmerentia

VERJAARSDAGHOEKIE
Vandag: Adelle Jv Rensburg
21 Februarie: Dorette Burgers, Lizeth Louw, Suné Niemand
22 Februarie: Wilma Badenhorst, Jos Bosman, Annie Robertson, Lucas vd Heever
23 Februarie: Michellé Theron
24 Februarie: Geen verjaarsdae
25 Februarie: Dina Ludick (90jr), Brendan Klopper, Johan Klopper, Irma vd Merwe, Carla van Niekerk
26 Februarie: JJ Alberts, Lorraine Jonker, Wynand Moolman, Leon Nell, Leon vd Merwe
NB: Indien u naam nie op die weeklikse verjaarsdaglys verskyn nie, kontak asb die kerkkantoor sodat ek kan vasstel waar die probleem is. – Elize

DEUR DIE HAND VAN DIE HERE AANGERAAK!
“En Agab het aan Isébel meegedeel alles wat Elía gedoen het, ja, alles – hoe hy al die profete met die swaard gedood het. Daarop stuur Isébel ʼn boodskapper na Elía om te sê: Mag die gode so doen en so daaraan toedoen – sekerlik sal ek môre sulke tyd jou siel maak soos die siel van een van hulle. Toe hy dit sien, het hy hom klaargemaak en ter wille van sy lewe weggegaan. En toe hy in Berséba in Juda aangekom het, het hy sy dienaar daar laat agterbly; maar self het hy ʼn dagreis ver die woestyn ingegaan en daar onder ʼn besembos gaan sit en gewens dat hy mag sterwe. En hy sê: Dit is genoeg, neem nou my siel weg, HERE, want ek is nie beter as my vaders nie. Daarop gaan hy lê en raak onder ʼn besembos aan die slaap; en kyk, daar raak ʼn engel hom aan en sê vir hom: Staan op, eet!” – 1 Konings 19:1-5 (53-vertaling).
“En kyk!” (v5). Dit klink soos ‘n jubelkreet. In hierdie woorde sit ‘n onverwagte en blye verrassing. Hierdie man is toegemessel in sy omstandighede. Menslik gesproke is daar vir hom geen uitkoms meer nie. Dit is die einde. Dit is verby met Elia. Hy het die einde van sy pad bereik. Dit is klaar met hom.
Maar hoor dan die jubel van uitredding en bevryding in die: “en kyk!” Dit breek deur alle newels heen. Dit breek deur alle menslike vooruit¬skouings van ‘n sombere toekoms. Wonderlik! Want kyk, bo dié donkere menselewe wat hom vir ‘n doodslaap neergelê het, is die hand van God – God se reddende, helpende hand.
Ja, deur die engel raak die Here hom aan. Die engel is God se hand. Die Here steek sy hand uit na hierdie verslae mens in die draaikolk van moedeloosheid. Die engel is ‘n openbaring van die Here se hulp en bystand. So prakties en daadwerklik is die Here se hand.
Dit is ook die boodskap vir alle mense wat hulself in hierdie lewe afgeskryf het. Vir alle lewensmoeë, eensame en wanhopige mense. Vir mense wat geen lig meer sien nie en miskien al met gedagtes aan selfmoord. Die Woord verkondig aan jou dat die hand van die Here uitgestrek is na dié mens wat neergeslaan is deur die lewe. God steek sy hand na jou uit! Maar wil die mens dit aanvaar? Ons hoor die versugting wanneer mense in moeilike omstandighede verkeer: “daar is niemand wat sy hand na my wil uitsteek nie, of as daar mense is wat tog wil help, is hul arms te kort en hul hande te swak.”
As jy voel dat jy in jou eie woestyn verkeer, weet dan dat die Here ook sy hand na jou toe uitsteek. As alles vir jou hopeloos lyk, as jy alleen is met jou bekommernisse en niks van iemand kan verwag nie …. dán … “en kyk, daar raak ‘n engel hom aan.” Daar is die Here se hand! -Ds Gabe van Duinen
De Stem achter U (effe aangepas)

DROOMHUIS
Baie dankie aan Lois Sauer wat so gereeld ons mense van Droomhuis by Witrand gaan besoek. Met elke besoek is daar natuurlik ook ʼn wenslysie.
Skenkings van koffie, tee, melk en suiker kan gerus by Jacoba Ras of die Kerkkantoor kan afgegee word.

AS DIT DONKER IS OM MY
Vrees is onnodig
Die mense het hulle verwonder en gesê: Watter soort mens is hy dat selfs die wind en die see hom gehoorsaam?” -Matteus 8:27
Toe daar ʼn hewige storm oor die see van Galilea losbars en Jesus agter in die skuit bly slaap, maak sy dissipels Hom bevrees wakker. “Waarom is julle bang, kleinge-lowiges?” wil Jesus hierop weet. Hy het opgestaan en die wind en die see aangespreek en dit was dadelik kalm.
Daar word ʼn mooi verhaaltjie vertel van ʼn passasiersboot wat op pad van Londen na New York was en onderweg in ʼn hewige storm beland het. Almal was baie bang, ook die agtjarige dogtertjie van die kaptein. Toe wou sy weet: “Is Pappa op die brug?” Op haar ma se bevestigende antwoord het sy omgedraai en dadelik weer aan die slaap geraak. Sy het die volste vertroue gehad dat haar pa die boot veilig deur die storm sou stuur.
Christene se geloof vrywaar hulle nie van lewenstorms nie. Niemand kan seerkry en swaarkry vryspring nie; dit vorm ʼn onlosmaaklike deel van ons lewe. As jy aan God behoort, kan jy hierdie storms egter vreesloos tegemoetgaan omdat jy weet dat jou Kaptein op die brug is en dat Hy die stuurwiel van jou lewensboot veilig deur elke storm sal stuur.
God maak nou wel nie alle storms in jou lewe stil nie, maar Hy is by jou in die storm. Soos die dogtertjie van die skeepskaptein, hoef jy ook nie vir die storms bang te wees nie; jou Vader sal jou veilig daardeur lei.
Hemelse Vader, ek loof U vir die versekering dat U my nie van alle storms vrywaar nie, maar dat U wel belowe om my veilig deur die storms te lei. Amen –Nina Smit

 

CategoryUncategorized
Follow us: